SUCCESS STORIES

Gayelene Ruiters

 My storie van skool los tot matriek

Deur: Gayelene Ruiters

Ek is gebore 1984/11/11 het my skoolloopbaan begin by Joubertina Primêr in 1990 met Pre-Primêr. Het St.5 voltooi in die jaar 1997. Daarna het ek in Port-Elizabeth by Bertram High gaan skool loop, daar het ek begin eksperimenteer met alcohol gedurende skool ure en sodoende stokkies gedraai totdat dit by my ma uitgekom het en sy my kom haal het in P.E. ek het terug gegaan Langkloof toe waar ek toe besluit het ek gaan skool opskop en gaan werk. My eerste werk was by RDP (Werk vir Water) tot en met Desember 1998 waarna ek besluit het om terug te gaan skool toe 1999.

Ek het plek vir skool gekry in Krakeel en net soos ek my skooljaar moes begin vind ek uit ek is swanger. Die gedagte dat ek nou ‘n ma gaan wees het my laat besluit om heeltemal die gedagte van skoolloop te los so was ek toe ‘n swanger (dropped out) tiener.

Op ‘n vroeë ouderdom het begin werk aangesien ek mos nou ‘n ma was, ek het van pakstoor tot pakstoor gewerk vir ‘n aantal jare van +- 6 jaar. Tot daar waar ek in ‘n winkel begin werk het as kassier. Op ‘n stadium vind ek uit dat ek my skool loopbaan sal moet voltooi om ‘n beter lewe vir myself sowel as my kind te bou, ‘n groep van 4 jong ouers begin ons navorsing te doen vir ‘n hulpbron om ons in Ravinia te help om te matrikuleer. Die plaaslike skool hoof het my belowe hy is in gesprek met Dept. Of Education om aandskool weer terug te bring na ons area, ons het met ‘n oud onderwyser gepraat om die klasse aan te bied en ook te help om aandskool weer in area te kry maar ek het my elke keer vas geloop in beloftes of ek kom weer terug na julle. Ons het selfs ‘n lys van oor 30 leerders gehad wat as ‘n petisielys gedien het om aandskool te kry, maar ten spyte van dit ons het niks positiefs gebeur nie.

2013 sien my man ‘n advertensie en kom lig my in met aansoekvorms in hand en ons doen aansoek op die spot. Weereens lig ek almal op ons lys in van die klasse wat aangebied gaan word en almal doen aansoek op ‘n streep. Hierdeur was daar so baie aansoeke en die fasiliteerder soek 15 leerders op daardie oomblik, ongelukkig vir my word ek nie gekies om deel van die opleiding te wees nie. Baie teleurgesteld moes ek aanvaar dat dit seker nie vir my beskore is nie behalwe dat die mense wat ek aangemoedig het, deel gaan wees van klasse. Ek begin toe die Here vertrou en voel as dit vir my is sal ek inkom al moet daar ‘n paar leerders uitval sodat ek kan inkom… Dinge gebeur toe net so en die volgende maand begin ek met ABET en Elizabeth Labuschagné as my fasiliteerder. My ABET het ek begin op Kommunikasie Vlak 3 en Gesyferdheid op Vlak 2 – as ‘n getroude vrou en moeder van 2 met ‘n voltydse werk.

Ek het my ABET Vlak 4 voltooi in 2015 en moes wag vir my sertifikaat sodat ek ken inskryf vir adult matric deur Dept. of education want dit is minimum vereistes. Teen 2016 het my sertifikaat ontvang en is toe ingeskryf vir Afrikaans Eerste Taal, English First Additional Language en BESIGHEIDSTUDIES. 24 Maart 2016 kry ek ‘n sms wat sê ek in ingeskryf vir bogenoemde vakke en dat my eerste datum in Mei is om te skryf en my venue is Bridgton Secondary School. Teen April het ek boeke gekoop en het net mooi ‘n maand om voor teberei vir eksamen. Eksamens is suksesvol afgelê met die bystand van die Here, Elizabeth, my ouers en my man. 2de Fase van matriek word weer suksesvol afgelê in 2017.

En toe kom die boodskap op 18 Aug 2017: “The candidate Gayelene Ruiters has met the minimum requirements and qualifies for the Senior Certificate with effect from July 2017”.

Toe ek uiteindelik my UMALUSI sertifikaat kry het ek met Diploma toelating geslaag, wat ‘n eer.

Foto Bo: Gaylene Ruiters saam met 4U Development CEO en Langkloof Helping Hands venoot Elizabeth Labuschagné.

In 2014 het Elizabeth my gevra om saam met haar ‘n nie-winsgewinde organisasie te stig, Langkloof Helping Hands NPO.  Ek het eers begin as die tesurier en fondse het stadig maar seker begin inkom.  Teen 2016 het ek self ABET aandskool begin aanbied en teen 2017 het Helping Hands fondse gekry van Dept of Social Development vir Family Preservation Services.  Dit het my instaat gestel om voltyds vir Helping Hands te werk as die Project Coordinator en fasiliteerder.

In 2018 het ek my eie maatskappy gestig, Jogajar Pty (Ltd). Met Jogajar kan ek self werke skep en kry ek die geleentheid om te kan “Pay it Forward”.